’n Adder in eie boesem

Dit was Januarie 2016 toe ek die eerste maal ’n knop in my linker bors ontdek het. Ek dink so iets is ’n skok vir enige vrou. Ek het dadelik in sweet uitgebars, want volgens my kennis beteken knoppe in ’n persoon se bors net een ding – borskanker. My borste het my verraai. Dis mooi en vroulik, maar dis ’n bron van kommer en gevaar.

Ek het bang, baie bang, na my dokter in Potchefstroom toe gegaan. Ek het haar vertel van die knop en sy het my gevra om my bolyf te ontklee en op die bed te gaan lê sodat sy my kon ondersoek. Ewe skielik moes ek myself ontbloot en ek moes een van die mees intieme dele van my liggaam vir ’n vreemdeling wys, maar gelukkig het ek ’n vrouedokter en sy het dit baie sensitief hanteer. “Daar is meer as een,” het sy gesê en dit het gevoel of my hart vir ’n paar sekondes ophou klop. Daarna het sy vir my ’n afspraak gemaak om te gaan vir ’n sonar vir my ‘mammas’.

Tydens my besoek aan die dokter wat die sonar gedoen het, moes ek so ’n lawwe japon aantrek. Sy het my borste een vir een oopgemaak om te ondersoek. Sy het ’n jel aangesmeer wat so half koud en half warm was. Terwyl ek weer my klere aangetrek het, het sy na haar kantoor terug gekeer waar sy ’n verslag gaan tik het. Ek het in spanning gewag en gewag en gewag… Dié dokter het geen kommer gehad oor die knope nie nie. “Daar is drie knoppe in jou borste. Dis nie kwaadaardig nie, maar ons moet dit dophou.” Toe ek weer in my kar sit, het ek dadelik deur die verslag gelees. Dit herhaal wat sy vir my gesê het in groot medies terme wat ek nie kan verstaan nie, hulle noem dié soort knop ’n fibroadenoom.

Ek het met die verslag terug gegaan na my dokter en sy het vir my medikasie (Primeve Plus) vir drie maande voorgeskryf, daarna moes ek weer vir ’n sonar gegaan het. Dié sonar het gewys dat die knoppe binne die drie maande aansienlik vergroot het en die dokter het my verwys na ’n chirurg. Nou moes ek ’n mans dokter gaan sien.

Hoewel ek daardie tyd ’n student was en ver van my ouerhuis af gewoon het, het my ma deurgekom vir morele ondersteuning toe ek die chirurg gaan sien het. Die koddige man met rooi hare het gesê dat ek jaarliks moet gaan vir sonars om dit te monitor en wanneer dit te groot word, gaan ons dit maar moet laat uitsny. Al waarvoor ek daardie dag in my gebede dankie gesê het, is vir die feit dat dit nie kwaadaardig was nie.

September 2017 het ek vir my derde sonar gegaan. Dit was al vroeg lente, maar ek het skielik koud gekry in die dokter se spreekkamer. Dalk was dit die spanning. Die masjien het ’n ‘grrrrr’ geluid gemaak en ek het weer in die lawwe japon op die nou bedjie gelê.

Daar was twee nuwe knoppe. “Dit lyk vir my of jy dit kweek,” het die dokter gegrap. Ek was te veel op my senuwees om te lag, maar ek het effens geglimlag. Sy het nie regtig veel oor die ou knoppe gesê nie, behalwe dat die een teen ’n baie vinnig tempo groei. Nadat sy met die sonar klaar was, het ek weer my onderklere en my klere aangetrek en gewag vir die verslag. Ek het angstig na my kar gestap waar ek vinnig die koevert met die verslag oopgeskeur het, want ek kon nie meer wag nie. Die eerste knop wat ek ontdek het is al byna 3cm groot en amper dubbeld die grootte wat dit laasjaar was!

Terug by my dokter het sy gesê dat sy steeds nie bekommerd is oor die knoppe nie, maar dat sy die sonars en die verslag na die chirurg sal stuur. ’n Week later het ek ’n oproep gekry, die chirurg wou my sien.

’n Dag nadat ek klaargemaak het met my honneursgraad in joernalistiek, het ek myself weer in die chirurg met die rooi hare spreekkamer bevind. Hy het my ondersoek en vir my twee opsies gegee: “ons kan dit dophou en later verwyder wanneer dit ongemaklik raak of ons kan dit nou uitsny terwyl ons nog ’n klein sny kan maak wat vinnig kan genees.” Skielik het my brein die twee opsies teen mekaar begin opweeg. Moet ek dit los en altyd bly wonder en bekommerd wees? Of moet ek dit uitsny en dan verewig ’n sny op my bors hê? Voordat ek tot ’n besluit kon kom het die dokter weer gepraat: “die kanse is goed dat dit gaan aanhou groei tot jy menopause bereik en die knop is al reeds amper 3cm groot en hy groei baie vinnig. Die beste sal wees om hom nou uit te haal. Die ander knoppe pla nie.”

Ek het my besluit gemaak. “Wanneer kan ons opereer?”

Ons het vinnig al ons reëlings getref en besluit op die volgende Maandag en ek het vinnig na Medi Clinic gegaan om die res van die reëlings vir die operasie te tref. My ma het onmiddellik gesê dat sy by my sal wees daardie dag, wat ’n wonderlike ma het ek nie?

Maandag het gekom en ek is ingeboek en hulle het my ondersoek. Toe ek myself weer kon kry toe word ek wakker vanuit die narkose en die dokter wil my sommer klaar ontslaan. “Kan ek net wag vir my bord kos?” vra ek, want ek is honger en ek het nogal uitgesien na my bestelling wat ek ingesit het.

My herstelproses was net so vinnig soos die operasie, maar soos daar altyd ’n effense letsel op my bors gaan wees, gaan daar ook altyd ’n emosionele letsel wees. Dis alles verby en die sny lyk mooi, maar weet jy wat? Hoewel niemand wat my ontmoet of my raakloop op straat sal weet nie, sal ek altyd weet daar is ’n sny op my bors.

Self-examination is belangrik. Volg hierdie skakel om uit te vind hoe jy jouself kan ondersoek vir borskanker: http://www.breastcancer.org/symptoms/testing/types/self_exam/bse_steps.

Breast-Cancer.jpg

2 thoughts on “’n Adder in eie boesem

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s