Die lewe is ‘n tuimeltrein

Tuimeltrein… Dis hoe die grootmenslewe is… Die grootmenslewe begin baie skielik en onverwags. Hy gooi jou so bietjie links, gooi jou so bietjie regs en sodra jy dink dat dinge rustig begin raak, maak die lewe ‘n haarnaalddraai en tuimel nog onderstebo ook. Maar vandag vra ek jou – wat is anyway lekker aan ‘n vervelige reguit pad sonder draaie en stampe?

Ek is uiteindelik officially deel van die grootmenswêreld. Ja, ek het ’n werk gekry en baie ander goeie dinge het gebeur! Wat ‘n journey was die afgelope jaar tot nou toe nie. Nadat ek byna ‘n jaar en ‘n half terug klaar studeer het, het ek gedink alles val in plek, maar dinge was toe nou nie so maklik nie.

Kom on begin by die begin…

Ek en Francois het besluit om saam in te trek wanneer ek na my studies na Krugersdorp toe getrek het. Ons was teen daardie tyd al vier en ‘n half jaar saam en natuurlik was ons van plan om in elk geval eendag die knoop deur te haak, so ons wou nie nog langer apart van mekaar leef nie.

Ek het een Sondag, op die vooraand van ‘n operasie, dié nuus aan my ma gebreek. Grootste fout van my lewe… Hoewel sy my steeds bygestaan het tydens die operasie, het sy nie ‘n woord met my gepraat nie. Die teleurstelling was net te groot vir haar om my in die oë te kyk.

Hoe dan nou gemaak – ek was opgewonde om ‘n avontuur saam met die liefde van my lewe te begin, maar my kosbare ma wil ‘n stokkie daarvoor steek… Na lang gesprekke, ‘n hele paar preke en lang trane het my ma dit wel aanvaar dat ons gaan saam intrek, maar sy keur dit tot vandag toe nie goed nie.

Vandag bly ek en die mooiste man onder die son saam in ‘n snoesige meenthuis in die hartjie van Krugersdorp. Ek het ‘n blink ring aan my vinger en ek is besig om met groot opwinding ons troue te beplan.

 

IMG_5095

My ma het gesê dat sy vir ons sal lief bly, maar sy gaan nie by ons kom kuier terwyl ons in sonde leef nie, maar in Junie het my ma, my stiefpa en my mooiste boetie sak en pak by ons kom kuier. Dit was een van die beste herinneringe saam met my familie en hoewel my ma dit dalk nie besef nie, bid ek elke dag net vir liefde. Liefde in my verhouding en liefde in my familie. Ek wil net hê dat almal die lewe moet geniet en loved kan voel.

Na my studies en die groot trek Krugersdorp toe, het die werksoek begin.

Werksoek is nie perdekoop nie en ek het dit eerstehands beleef. Nadat ek met my studies het in 2017 klaargemaak het, het ‘n werksgeleentheid oor my pad gekom wat ek met albei hande aangegryp het, maar nog voordat ek kon begin, het die werknemer my in die steek gelaat en ek moes weer ‘n werk soek.

Ek het my CV na honderde plekke gestuur en nie eers soveel as ‘n ‘dankie vir jou CV’ terug gekry nie. Ek het begin om aanlyn kursusse doen net om myself besig te hou, want ek was besig om van my kop af te gaan.

Vier maande later het my verloofde se sussie voorgestel dat ek en sy ‘n fotografiebesigheid saam begin en vir die eerstekeer het ek lig aan die einde van die tonnel gesien.

Ons was hard aan die werk met die beplanning en die opbou van ons portefeulje toe ‘n ander geleentheid oor my pad gekom het. Dié opsie was nie noodwendig die beter opsie nie, maar eerder die slim een. Hoewel ek baie opgewonde was om saam met my beste vriendin ‘n besigheid te begin, is ek nie onnosel nie en weet ek dat ons nie albei binnekort ‘n volle salaris sou kon trek nie.

My haarkapper het my een Saterdagaand gebel en gesê dat een van haar kliënte ‘n joernalispos by haar werk oop het. Sonder enige verwagtinge het ek my CV gestuur en ek het gegaan vir ‘n onderhoud. Daardie Woensdagoggend is ek aangestel as ‘n joernalis by een van Caxton se gemeenskapskoerante en vir die eerste keer in my lewe was iemand bereid om my te betaal om te skryf. Wat ‘n amazing gevoel!

Ek wens ek en my beste vriendin kon binne maande sakke vol geld met ‘n fotografiebesigheid verdien, maar ongelukkig is dit nie die realiteit nie en moes ek die grootmenskeuse maak en die werk waar ek geld verdien gekies het.

Ek is so geseënd, want my vriendin was nie kwaad toe ek haar van die besluit vertel het nie. Inteendeel was so so bly vir my en dis wat haar so spesiaal maak. Al het ons planne nie gewerk nie ondersteun ons steeds mekaar se drome. Die pragtige mens het net ‘n paar dae gelede haar eerste meisiekind in die lewe verwelkom.

Ek werk nou al amper tien maande vir Caxton en ek raak elke dag weer van voor af verlief op joernalistiek. Daar is baie uitdagings soos die lang ure, maar dit steek ‘n vuur binne my aan wat ek nie kan beskryf nie. Ek was gebore om die werk te doen.

Dit maak nie saak hoe groot die bekommernis of uitdaging is wat mens in die gesig staar nie, ons Vader is groter as dit. Deur al my moeilike besluite het ek ons Vader gevra om my sterk te hou en op die regte pad te lei en al moet ek dit nou self sê, dinge het meer as oraait uitgewerk vir my. Ek is werklik ‘n geseënde jong dame.

IMG_5096

7 thoughts on “Die lewe is ‘n tuimeltrein

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s